
=====================================================================
Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Twee letterkundiges in gesprek

Hennie Aucamp bespreek prof. Wilfred Jonckheere se belangrike oorsigstudie oor Suid-Afrika in die Nederlandse literatuur tussen 1896 en 
1996 (Van Mafeking tot Robbeneiland - Zuid-Afrika in de Nederlandse literatuur 1896 - 1996. Uitgegee deur Vantilt, Nijmegen; 1999).

DIE politieke verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika, soos dit hom voltrek in die letterkunde, getuig van 'n emosionele wipplankryery, 
veral wanneer daar op die letterkunde van 'n eeu en selfs langer teruggekyk word.

Dit is presies wat Wilfred Jonckheere doen in sy oorsigstudie, Van Mafeking tot Robbeneiland, met as ondertitel Zuid-Afrika in de 
Nederlandse literatuur 1896-1996. Di belangrike werk sou aan my verbygaan het, as dr. Hans Ester van die Katholieke Universiteit van 
Nijmegen nie so vriendelik was om my 'n eksemplaar te stuur nie.

Jonckheere neem geen blad voor sy mond nie wanneer hy wys op die gemoedsommeswaai by die Nederlanders die afgelope anderhalf eeu t.o.v. 
Suid-Afrika.

Tot die Transvaalse Vryheidsoorlog (1880-1881) toe was Nederlandse belangstelling in Suid-Afrika feitlik nie-bestaande. M. Bossenbroek wys 
daarop dat die Afrikaners, oftewel Boere, toe as "dom, achterlijk, star, lui en agterbaks" beskou is. Die Boere se verset teen die magtige 
Engeland het skielik 'n gevoel van stamverwantskap in Nederland laat oplaai, en di patriotiese emosie sou 'n intense hoogtepunt bereik 
tydens en ook n die Anglo-Boereoorlog.

Teen die sestigerjare van die twintigste eeu het di emosie begin padgee vir wrewel en selfs veragting, weens die apartheidsregime in Suid-
Afrika; en in die jare tagtig was die kultuurboikot van Nederland teen Suid-Afrika 'n voldonge feit. Met die vrylating van Nelson Mandela 
begin 'n nuwe, en opnuut positiewe houding in Nederland posvat teenoor Afrikaans, en by implikasie die Afrikaanssprekende.

Jonckheere bied sy navorsing in drie groot "bewegings" aan: "De verheerlijkte Boerenhelden", "Tussen droom en werkelijkheid" en "De 
literaire garde en apartheid."

Die eerste hoofstuk is 'n inligtingryke hoofstuk wat nuwe perspektiewe vir literre navorsing open. Hoe het dit byvoorbeeld gebeur dat 
Nederland, maar trouens ook Frankryk en Duitsland, soveel hartstogtelike geesdrif vir die onderdrukte Boere kon monster?

Hierop gee Jonckheere interessante antwoorde. Europa het futloos en dekadent geword, en het in die Boere 'n vitale volk gesien wat nog in 
haas Arkadiese eenvoud geleef het. Uit di houding spruit natuurlik romantisering en idealisering.

In Nederland is ontsaglik baie geskryf oor die Boereoorlog, of soos die Boere tereg ges het, die Engelse Oorlog. Jonckheere behandel 
populre sieninge van die Boereoorlog, soos die romans van L. Penning, asook die soort tekste wat net op straat verkoop is. En natuurlik 
verwyl hy by die groot Nederlandse digters en skrywers van destyds: Willem Kloos, Albert Verwey, P.C. Boutens, Frederik van Eeden.

'n Moderne leser ruk nogal orent wanneer hy lees hoe Verwey die Boere beskryf as "de adel van 't Caucasisch ras". Jonckheere wys daarop dat 
"ras" destyds gewoon "nasie" sou beteken het, maar het 'n mens tog nie hier die vrtrillings van 'n soort fascisme nie? Jonckheere s 
byvoorbeeld self dat P.C. Boutens Paul Kruger as 'n soort bermensch sien in sy twee huldesonnette aan Kruger. Vgl. di tersine:
Hoe staat hier plotseling de scherpgekante
Toren van u slagschaduw, Groote Grijze,
Eenig massief in't neevlig-transparante? ...

Ja, dis uit Boutens se gedig dat Anna M. Louw haar romantitel, Die Groot Gryse, gehaal het.

Loop die pad van Romantiek oor werklikheid, ontnugtering en afkeer na 'n Nuwe Romantiek? Dit wil so lyk: n 'n eeu word pres. Mandela 
gemitologiseer soos eenmaal pres. Kruger. 'n Mens dink byvoorbeeld aan die huldedig, "Gedicht voor Nelson Mandela", by geleentheid van die 
oudpresident se sewentigste verjaarsdag deur Vernie February.

Jonckheere wys in die tweede hoofstuk op L. Penning se historiese romans oor Suid-Afrika wat hul hoogty tydens die Anglo-Boereoorlog 
beleef, maar s populr was dat hulle voortdurend herdruk is. N 'n swye van tien jaar publiseer Penning 'n roman oor die Rebellie van 
1914, getiteld Voor vrijheid en recht. Jonckheere vermoed dat Bart Nel van Jan van Melle deur Penning benvloed kon gewees het, maar 
beklemtoon dat Van Melle nie 'n historiese roman wou skryf nie, maar op 'n persoonlike tragedie gekonsentreer het.

Tussen 1924 en 1926 publiseer Penning nog drie romans oor Suid-Afrika. Die beeldvorming wat van sy populre romans met hul eensydig-
gedealiseerde siening van die Boer uitgegaan het, verdien nadere politieke verkenning. Die sinsnede "zwarte gevaar" kom al by hom voor, en 
hy propageer die mite dat Suid-Afrika vir die Afrikaner bestem is en dat die Afrikaners 'n supervolk is. Iemand behoort Penning se Trek-
romans met die latere Trek-romans van F.A. Venter te vergelyk.

So laat as 1948 verskyn daar nog romantiserings van die Groot Trek in Nederlands, soos byvoorbeeld die boeke van Albe (skuilnaam van Renaat 
Anton Joostens).

Jonckheere se ruimskootse, soms volledige aanhalings van Nederlandse gedigte oor Suid-Afrika maak van Van Mafeking tot Robbeneiland 'n 
waardevolle bloemlesing, of moet ges word, voorlopige bloemlesing. N hoofstuk I kom talle groot digtername in Nederlands aan die bod: M. 
Vasalis, Willem Hessels (skuilnaam van H.A. Mulder), Jan Greshoff, Leo Vroman, Simon Vinkenoog, Lucebert, Bert Schierbeek en baie ander 
name. Dis egter te betwyfel of hierdie digters se werk oor Suid-Afrika, met die uitsondering van Vasalis, tot hul beste werk behoort.
---------------------------------------------------------------------

Politieke konteks

Die gesprek tussen Nederland en Suid-Afrika, via die letterkunde, word in 'n bre sosiopolitieke konteks geplaas deur Wilfred Jonckheere. 
Jou sin vir simmetrie en regverdigheid pleit nou dat 'n bundel verskyn, soortgelyk aan di van Jonckheere, waarin die Afrikaanse skrywer se 
kyk op Nederland gegee word, via prosa en posie; en weer eens, as dit haalbaar blyk te wees, oor 'n hele eeu.

'n Mens kan in di stadium net spekuleer oor s 'n bundel, want studie en navorsing is nodig vir 'n projek van di omvang.

Suid-Afrikaanse studente wat op hul beurt oor Nederland gedig het, sluit byvoorbeeld in A.D. Keet met sy byna kinderlike euforie oor 
Amsterdam:
 Ou Amsterdam is tog so mooi
  Met al sy liggies uitgetooi
  In donker, donker nagte

Van groter potiese waarde is die nostalgie-verse van Kleinjan van Bruggen ("Heimwee") en W.E.G. Louw ("Oktober"). "Oktober" is myns 
insiens een van W.E.G. Louw se allermooiste, allerinnigste gedigte. Dit eindig met di versugting:
O ek moet t'rug: ek kan my hart nie
 meer bedwing
 Ek kan die liefde - lank bedrieg en
 wysgemaak -
 van l die dinge nie ontbeer ... Hier
 waai die wind,
 en deur die wind, die blare en die eerste
 ren.

By W.E.G. Louw dus, soos by Kleinjan van Bruggen, 'n smagting na die "ewige sonneskyn".

En n W.E.G. Louw het ander groot digters Nederlandse temas in hul verse aangesny: N.P. van Wyk Louw, Ernst van Heerden (laasgenoemde oor 
Belgi), Lina Spies, Daniel Hugo, Marlene van Niekerk, Sheila Cussons en ja, Elisabeth Eybers, hoewel Eybers reeds volledig toegeien is 
deur die Nederlanders.

Hoeveel prosatekste oor Nederland is daar in Afrikaans? Veel minder as wat daar verse is, en dikwels suiwer joernalistiek. Begeesterde 
joernalistiek by tye, soos W.E.G. Louw se nuusbriewe uit die vreemde. Ek onthou hoe opgewonde hy oor die skildery Gesig op Delft van 
Vermeer geskryf het, en iets te dien effekte ges het: As die Liewenheer geskilder het, sou hy soos Vermeer geskilder het.

Abraham H. de Vries het sy Nederlandse verblyf gedenk in Joernaal uit 'n gragtehuis; Petronella van Heerden het in haar outobiografiese 
boeke na Nederland verwys, soos ook Jaap Steyn in sy outobiografie.
---------------------------------------------------------------------

Nederlandse kultuurboikot

Die Nederlandse kultuurboikot het skade vir twee kulture, die Nederlandse en die Afrikaanse, beteken. Daar was 'n verlore geslag 
Afrikaanssprekendes wat nie die voordele van 'n opvoeding in die ryk Nederlandse kultuur gehad het nie. Daar sou vandag meer as net 'n 
handjie vol Nederlandici in Suid-Afrika gewees het as die kultuur-uitreikings ononderbroke voortgegaan het.

Die toekoms van Nederlands op skool en universiteit in Suid-Afrika is nou eenmaal ten nouste gekoppel met Afrikaans: hoe meer die 
Afrikaansonderwyser van Nederland en Nederlands weet, hoe beter sal dit met Nederlands hier te lande gaan.

Hier moet ek ongelukkig met 'n somber voetnoot kom, en dis dat Afrikaans in die Nuwe Suid-Afrika voortdurend bedreig word, veral dan op 
skoolvlak.

Wie kan met stelligheid s dat Afrikaans oor vyftien, twintig jaar nog 'n lewensvatbare literre medium gaan wees? Want behalwe die druk 
van die staat en ander belangegroepe op Afrikaans, word Afrikaans toenemend van binne-uit verswak, onder meer deur skrywers wat baie 
bewustelik 'n "mixed bredie"-konsep aanhang.

Dit het geslagte skrywers, en bowenal digters, gekos om Afrikaans te smee tot "'n smal swaard en blink". Nou mag dit wees dat Afrikaans hom 
as "'n wonder van kortstondigheid" gaan bewys. My formulering gaan terug op Van Wyk Louw, wat ges het dat Afrikaans 'n eendagswonder mag 
wees as hy sy temas tot die voorhuis gaan beperk. Intussen - dis nou sedert 1959 - het Afrikaans die slaapkamer en die dubbelbed en die 
toilet verower; alles, maar alles, mag nou in Afrikaans ges word. Maar in watter soort taal?

Ook ander skrywers deel my vrese oor die bewustelike vermolming van Afrikaans. Dr. Lucas Malan s in sy essay "Daardie M-verskynsel" in Die 
Volksblad van 21 Desember 1999: "Dat 'n taal in een eeu so vinnig fiks en fors kon word soos Afrikaans en binne een dekade weer tot 'n 
'bastertaal' gesloop sou word, moet 'n unieke verskynsel wees."

Dr. Malan plaas "bastertaal" tussen aanhalingstekens, om waninterpretasie by lesers uit te skakel. Dit gaan by hom om die aanvreting van 
die idioom van 'n taal; van daardie elemente wat 'n taal tot taal maak. Kan voorsien word dat ng 'n Raka, ng 'n Joernaal van Jorik, nog 
'n Onderdak in "cool, struggling Afrikaans" geskep gaan raak? Nie sommer nie, nie sommer nie.

Ook Peter Louw, taalpraktisyn in Kaapstad, skryf in die helder, oorwo trant van sy vader oor die skade wat taalslordigheid Afrikaans tans 
berokken. Sy artikel, in die April-uitgawe van Afrikaans Vandag, behoort aan die ho klok gehang te word. Ek haal hieruit aan: "Die 
probleem is dat dit nutteloos is om Afrikaans as openbare taal te probeer beskerm indien dit as private taal deur onkunde of agtelosigheid 
geleidelik ondermyn word en aan status verloor, totdat die punt bereik word waar 'n eksterne taalstryd sinloos word omdat die taal 
struktureel reeds half Engels is."

Miskien moet ons maar saamspan dat daardie boek oor Afrikaanse sieninge van Nederland so spoedig moontlik gebeur. Ek hoor in my 
nagmerriedrome die doodsklokke van Afrikaans beier, "rukke-golwend, wyer, wyer", soos dit by Jan Celliers staan, tot in Scheveningen, 
Groningen, Leuven, Tilburg, waar nie oral nie. Dr. Hennie Aucamp is 'n bekroonde veelsydige skrywer en die samesteller van bloemlesings.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7319.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Julie 2000 /// Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3) /// Terugblik 
op die grootste kunstefees (AV 7:3) /// Vlytige voorstander van veeltaligheid (AV 7:3) /// Forum vir openhartige debat (AV 7:3) /// Komrij 
blues (AV 7:3) /// Afrikaans as skakel na die buiteland (AV 7:3) /// Groot tjek vir stoepplesier (AV 7:3) /// Nuwe hoop vir ongeletterde 
plaaswerkers (AV 7:3) /// Behou diversiteit in globaliseringsproses (AV 7:3) /// Vennootskap van inheemse tale is prioriteit (AV 7:3) /// 
Carl Niehaus het in Nederland gebou (AV 7:3) /// Vele koppe maak puik planne (AV 7:3) /// ET blues (AV 7:3) /// Nuwe speler op die taalveld 
(AV 7:3) /// Talle faktore gryp in universiteitstaal in (AV 7:3) /// Tussen Scylla en Charybdis deurvaar (AV 7:3) /// Ver gemeenskappe se 
leiers leer sakevernuf (AV 7:3) /// Hansie blues (AV 7:3) /// Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3) /// 'n Bloeityd in die reklamebedryf 
(AV 7:3) /// Woordeboeke gee leerproses woema (AV 7:3) /// Nuwe toevoeging tot woordeboeklys (AV 7:3) /// Twee Koreane verstaan toe 
Afrikaans (AV 7:3) /// Studente wil in Afrikaans feesvier (AV 7:3) /// Afrikaans word in toneelwreld nuut gespel (AV 7:3) /// Jou 
Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3) /// Privaatgesprek (AV 7:3) ///

